Houtstok…

Laat ek dit sommer duidelik stel. Hierdie is nie ‘n Radio Houtstok bashing episode nie. Dis net bloot ‘n weergawe van die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het dat ek en die omroepers op 21 Maart uitgestap het soos ek dit kan onthou en ook om enige misverstande uit die weg te ruim.

Feite rondom Radio Houtstok.

Laat ek begin deur te sê dat daar nog nooit in my lewe so n aanslag om my persoonlik was as die een wat tans deur Houtstok en spesifiek die Baartman boeties op my gelanseer is nie. Gewoonlik sal ek dit laat soos water van n eend se rug af laat verbygaan maar wanneer my ma my in trane bel en my broer dreig om sake in sy eie hande te neem dan moet ek my kant van die storie vertel.

Daar het baie dinge gebeur die afgelope tyd wat dit bykans onmoontlik gemaak het vir my om langer by Houtstok aan te bly en dit was as gevolg van n hele rits gebeure wat ingelui is deur die Carte Blanche program op Mnet en gebeure daarna waarvan ek nie bewus was nie.

Radio Houtstok is n radiostasie wat op die been gebring is met die uitsluitlike doel om vir n kerk n gemeenskapsentrum te bou… Vandaar die Special event lisensie wat toelaat dat die stasie vir n tydperk van 45 dae op die lug mag wees.

Ek is deur Louis Baartman in September 2009 genader om te help om die stasie op die been te bring, ek was aanvanklik gekontrakteer op n konsultasie basis van September tot Februarie waarna LB my permanent ‘n pos as stasiebestuurder aangebied het waarop ek ja gesê het en in Februarie 2009 permanent Kaap toe verhuis het om by RH te kom werk. Ek is ook  aandele in die maatskappy belowe.

Die Houtstok musiekfees het in April 2009 plaasgevind en die fees was n totale mislukking, dit het Houtstok met n finansiële agterstand van meer as n miljoen rand gelaat ten spyte van die feit dat LB in die koerante verkondig dat slegs R380000 nog verskuldig is aan skuldeisers. Dis eenvoudig nie die waarheid nie… Lening van ‘n investeerder van R680k, maresa de Vos R100k, klank R146k, sekuriteit R140k, logistiek R40k, shuttle diens, caterers en kunstenaars wat nie betaal is nie, bedrae wat aan my onbekend is.

Dis teen hierdie agtergrond wat ons Radio Houtstok op die been moes bring en ons het, einde April 2009 het Houtstok die eerste keer begin uitsaai op die internet. Vir hierdie doel is elf omroepers aangestel en is Janine van der Vyver uit Pretoria Kaap toe gebring as PR vir Houtstok, Lizette Louw is n pos ge offer en aangestel nadat sy haar pos van meer as agt jaar by n bekende reisagentskap bedank het om by Houtstok aan te sluit na beloftes van byne dubbel haar salaris. Janine is Kaap toe gelok met beloftes van n groot salaris en het teen groot persoonlike onkoste n plek in Tableview kom huur en iemand soos Wickus Coetzee het van Kimberley af getrek Kaap toe met beloftes van groot salarisse by die nuwe radiostasie.

Binne die eerste drie maande is geen omroepers betaal nie en moes ek gedurig vure dood slaan om omroepers wat gedreig het om te loop te paai en die skip op die water te probeer hou.

Van die omroepers het navorsing begin doen en het op die verlede van LB begin afkom en binne dae het al die omroepers, met die uitsondering van Lino, myself en Heinrich du Plooy besluit om te bedank.

Ons het vasgebyt, deels omdat ek alles in JHB opgegee het om Kaap toe te kom en geen ander keuse gehad het as om hier te bly nie. Janine van der Vyver, Lizette Louw en Carline het almal bedank as gevolg van wan betaling van salarisse, op hierdie stadium het ek self al byna vier maande sonder n salaris klaar gekom en was my finansies in ‘n warboel om die minste te sê.

Teen alle verwagtings in en te midde van dreigementete oor die geld wat Houtstok die wèreld skuld het die stasie wel die lig gesien en wel op 28 Oktober 2010, ek het geweet ek het die regte resep om die radiostasie te maak werk maar selfs teen my eie verwagtinge in was ek aangenaam verras oor die ongelooflike terugvoering van die luisteraars, met die uitsondering van Ontbytjolyt wat deur Louis self aangebied is op sy aandrang, die luisteraars was egter bereid om self n swak en onprofessionele omroeper oor te sien omdat die formaat van die stasie gewerk het.

Binnekort was name soos HHH, Lino die bruin ou, Maresa de Vos, die glimmer zimmer en Marius Smuts huishoudelike name, onbekende kunstenaars en kleiner kunstenaars het ook binne maande huishoudelike name geword.

Alles was aan die brand met Houtstok en die wêreld was n beter plek met Houtstok op die lug, het almal gedink. Daar was egter n donker wolk wat oor ons gehang het sonder dat ons bewus was daarvan in die form van n Carte Blanche exposè wat reg was om die luggolwe te tref.

Op hierdie stadium het dit finansieël met ons sommer stukke beter begin gaan, groot borge het ingestroom en ek is Januarie vir die eerste keer in meer as n jaar betyds en my hele salaris betaal, dieselfde geld die ander omroepers.

Toe tref die Carte Blanche storie die radio stasie. Die oggend toe hulle by die kantoor was om die onderhoud met Louis te doen het hy vir my gesê dis niks om oor bekommerd te wees nie en sal nie die radiostasie affekteer nie….

Vir ons buurkantoor se mense het hy selfs gesê dit gaan baie goeie publisiteit vir die radiostasie wees…. Min het ons geweet wat ons gaan tref.

Toe die Carte Blanche storie uitgaan en ek sien die ongelooflike negatiewe terugvoering wat daarmee saamgaan het ek besluit om as Stasiebestuurder en in die beste belang van die stasie op te tree en Louis geskakel en gevra om nie die volgende oggend op die lug te gaan nie…. Sy antwoord aan my, “dis my stasie, ek gaan op die lug”.

Die volgende oggend is hy op die lug en ek het oombliklik oproepe van ons hoofborge gekry wat gedreig het om te onttrek want hulle kan nie met Louis geassosieër word nie. Ek het gepaai en gesê ek sal met hom praat en hom so ver kry om van die lug af te gaan

Dis belangrik om te noem dat Louis toe en nog steeds vandag, sy onskuld glo en ook aan my meegedeel het dat hy onskuldig is. Dit daar gelaat, dis nie vir my om te besluit of te oordeel oor Louis se skuld of onskuld nie.

‘n Gesprek het daarna tussen my en Louis gevolg waar ek hom gesê het die borge en adverteerders wil onttrek tensy hy van die lug af gaan. Sy woorde aan my was “dan moet hulle f****

Ek het die geldelike implikasie daarvan aan hom verduidelik en gehoop hy sal die lig sien. Dieselfde aand was die Valentynsbal by die Kraaifontein stadsaal. Ek sou later uitvind dat die persoon wat die kos gecater het slegs n deposito betaal is en later gepaai is met n kontrak om die Houtstok musiekfees se catering einde April te doen. Ek het ook intussen verneem dat Manie Jackson, een van die kunstenaars slegs n deposito betaal is wat die helfte van sy fooi was en dat die res hy nie gekry het nie. Of hy nou al betaal is weet ek nie.

Dieselfde aand sê Louis vir my dat ek nie bekommerd moet wees nie, hy het reeds n transaksie met n ander borg beklink om die hoofborg se plek in te neem. Dit het nooit gerealiseer nie en ek sou ook later uitvind dat die borgskap nie geld sou behels nie aangesien Houtstok die betrokke borg geld skuld van die mislukte musiekfees af en die borgskap was eintlik bedoel om daai historiese skuld te delg van Houtstok Entertainment, n tendens wat ek later sou besef nog die heel tyd aan die gang is.

Intussen het Louis aanhou uitsaai en het die situasie ondraaglik geraak wat ons uitsendings aanbetref. Die omroepers het n vergadering aangevra nadat Maresa de Vos bedank het omdat sy nie haar besigheid in gevaar wou stel deur haar verbintenis met Radio Houtstok en Louis Baartman nie.

Op die vergadering het die omroepers n ultimatum gestel, of Louis bedank en verbreek alle verbintenis met Radio Houtstok en weerhou hom daarvan om uitsprake namens Radio Houtstok op die facebook blad of enige publieke forum te maak, of al die omroepers sal bedank.

Ek het hierna n vergadering met Janine Buke, direkteur en Louis se dogter, en Jacques de Villiers, direkteur, belê waar ek hulle van die omroepers se besluit in kennis gestel het. Jacques het onderneem om as n saak van dringendheid met Louis te praat en hom te oortuig om nie meer uit te saai nie in belang van die radiostasie.

Op Sondag 20 Februarie het ons n noodvergadering by die kantoor gehad om 08:00 die oggend. Op hierdie nood vergadering was die uitvoerende komittee wat bestaan uit Jacques, Janine en die voorsitter Henk van Aswegen, myself my regsverteenwoordiger, Louis en n belegger.

Op hierdie vergadering is besluit dat Louis sal afstaan van alle aspekte wat betrekking op die radiostasie het, daar is ook besluit dat hy geen uitsprake namens die radio sal maak op facebook nie, BEHALWE om die events wat die stasie by betrokke is te promofeer.

Daar is ook besluit dat ek in sy plek die oggend program sal aanbied, tot sy naam herstel is of al die sake in die Carte Blanche program tot al die betrokkenes se mening suksesvol afgehandel is.

Onderhandelings is hervat om die borge en adverteerders weer betrokke te kry, almal was aanvanklik skepties of Louis werklik in die agtergrond sal verdwyn en het n houding van wag en sien ingeneem.

Intussen het die stasie begin herstel en dinge het goed gegaan op die lug. Intussen is ek ingelig dat Louis van plan was om weer te begin uitsaai op 1 April. Hy het in n vergadering dit aan my bevestig voor die voorsitter van die uitvoerende komittee en ek het gesê dat dit nie die ooreenkoms was nie.

Louis het ook by die Rooi Rissiefees op die verhoog gegaan en namens Radio Houtstok as MC opgetree wat n duidelik verbreking was van sy eie onderneming. Die omroepers het my meegedeel as Louis beplan om terug te gaan op die lug gaan almal bedank.

Op hierdie stadium was daar nie salarisse betaal nie en het my uitstaande gelde reeds op R108 802 gestaan volgens ‘ verrekening van my uitstaande komm, salaris ens. Soos met Janine gedoen op 8 Maart 2011 en waarvan ek n nota gemaak het dat ek en sy ooreenstem op my Ipad. Die enigste omroepers wat vol betaal was, was Ivan Zimmermann en Amanda de Waal as gevolg van hulle hoë profiel by die publiek, en Heinrich du Plooy.

Die ander omroepers, myself ingesluit was nie betaal nie of was net gedeeltelik betaal, iets wat ek voorspel het gaan gebeur die oggend toe ek aan Louis gesê het om van die lug af te gaan of ons gaan ons borge verloor….

Onthou ook dat Ons motorborg hulle geborgde voertuie teruggeneem het en my effektiewelik sonder n kar gelos het aangesien my persoonlike motor in was vir herstelwerk en aangesien ek nie salaris gekry het nie, het ek nie dienfondse gehad om my voertuig se herstelwerk te betaal om weer n kar te kan hê nie….

Dit het onder my aandag gekom dat Lara vd Watt, me Houtstok 2010 nie haar prysgeld ontvang het nie toe ek n sms van haar ma gekry het op die ontbytprogram wat my daaroor ingelig het. Ek het met Louis daaroor gepraat en hy het my later ingelig dat hy klaar met haar gepraat het en die probleem ‘opgelos’ is.

Skaars n week later was die storie in die koerant en het die bom weereens gebars  rondom Radio Houtstok en was ons weer in die koerante.

Hierna het n vertrouensbreuk tussen my en Louis ontstaan want ek het besluit hy tree nie op in die beste belang van die radio, luisteraars, adverteerders en werkers nie. Ek wou nie meer myself hiermee vereenselwig nie aangesien ek net in naam stasie bestuurder was maar in werklikheid word alle besluite wat ek neem net eenvoudig deur Louis geveto soos byvoorbeeld die feit dat Louis uitsaai op die lug, kunstenaars adverteer om op te tree by n musiekfees terwyl daardie deposito’s nog nie betaal is nie en hulle kontrakte duidelik sê jy mag hulle nie adverteer voor die deposito’s uitstaande is nie.

Toe ek noem dat ons nie hierdie advertensies kan plaas nie is ek eenvoudig geveto en is die advertensies geplaas. Dieselfde geld die toer van die Bellamy Brothers wat Louis ook aanpak en reeds begin adverteer het op dieselfde wyse nadat ek hom gesê het hy kan nie dit adverteer voor die deposito betaal is nie. Of die deposito intussen betaal is, weet ek nie maar tot op die datum wat ek geloop het op 21 Maart was dit nie betaal nie.

Na die Rissiefees het al die omroepers hulle skok en woede aan my oorgedra omdat Louis op n publieke forum sy intensies aangekondig het om weer te begin uitsaai. Die gevoel was duidelik, as Louis weer begin uitsaai gaan almal loop. Op hierdie stadium is daar verskeie offers aan Louis gemaak van verskeie oorde om die voortbestaan van ‘n Afrikaanse stasie aan die Wes-Kaap te verseker, alle aanbiedinge is deur Louis van die hand gewys.

Die beste aanbod myns insiens was een van R687 000 kontant, R100 000 pm vir 12 maande, R50 000 se gratis lugtyd op die radio om enige Houtstok fees of vertoning van sy keuse te bemark en 30% aandele in die stasie. Die enigste voorwaarde hy mag nie uitsaai of in die bestuur dien nie. Hierdie aanbod is ook geweier en het my op hierdie stadium laat twyfel of dit hoegenaamd oor “Afrikaans” gaan…

Intussen het n omroeperskurses begin waarvoor voornemende omroepers R3 500 per persoon sou betaal. Ek sou die kurses aanbied en sou R1 500 per persoon as vergoeding ontvang. Ses mense het vir die kurses betaal en ek het staatgemaak op daai inkomste aangesien ek nie salaris ontvang het nie. Ek wou nie verder betrokke raak nie en het aan Louis se meisie gesê ek gaan nie die kurses aanbied nie en sy moet sorg dat die mense se geld terug betaal word. Die kurses gaan tans voort en word deur Louis self aangebied…….

Op 21 Maart en met minder as R500 op my naam en karloos…. Het ek besluit ek kan nie langer so aangaan nie. Dis belangrik om te weet dat daar op hierdie stadium nie sprake was van n ander radio stasie van my kant af nie, daar was egter gerugte dat iemand anders n Afrikaanse stasie in die Kaap op die been wou bring.

Ek het besluit om my kanse op my eie te waag en het besluit ek kan nie langer so aangaan nie. Ek het as stasiebestuurder op 21 Maart n vergadering met die omroepers belê om hulle van my besluit in te lig.
Op die vergadering het ek gesê ek is klaar en dat niemand onder verpligting staan om ook te bedank nie. Op geen stadium is daar besluit om te “muit” soos ons uitgeskel word deur n beroemde sekspes op HS se fb blad nie….

Dis belangrik om te weet dat ek ook op daardie stadium geweet het van n opvolgstorie wat Carte Blanche beplan en dat daar selfs nog meer opskuddings sou wees. Ek het nie kans gesien vir nog n skandaal nie.

Die omroepers het gesê as ek loop dan loop almal saam. Die besluit is so aan die uitvoerende kommittee oorgedra en ons het uitgestap. Ons het net eenvoudig nie n toekoms gesien saam met Houtstok nie en dit was dit. Groot borge wou nie met ons saamwerk nie en dis dit. Ons is ingelig dat Louis Carte Blanche gaan dagvaar en sy naam in ere herstel. Dit het tot op hede nie gebeur nie.

Op 21 Maart het almal gelyk opgestaan en uitgeloop.

Dit het n free for all teen myself en die omroepers op HS se fb blad laat losbars waar ons sleggesê is en uitgekryt is as dislojaal en alles wat sleg is. Wilde aantuigings is teen my gemaak en ek is selfs beskuldig van diefstal van CD’s en van HS se databasis.

Op hierdie punt is dit belangrik om te weet dat meer as 90% van die musiek op HS se stelsel kom van my af en het ek op n hardeskyf saam my Kaap toe gebring, ek het 320 gig se musiek op my eie databasis, wat ek gebruik het om HS se musiek mee saam te stel. Ek het die aantuigings lagwekkend beskou en het sederdien soker ongeveer 15 CD’s aan hulle terugbesorg na die polisie my geskakel het daaroor.

Ek het ook n hardeskyf van hulle aan hulle terugbesorg met meer as 300 gig van my eie persoonlike musiek op. Met ander woorde hulle het nou onregmatig my databasis!! Ek het besluit om nie daaroor n bohaai te maak nie want”geregtigheid sal geskiet”.

Die holruggeryde Brugbou saga is weer ‘ontbloot’ op hulle fb blad, n saga wat al drie jaar gelede ordentlik gedokumenteer is op hierdie selfde blog en waar ek nooit enige regstappe in die gesig gestaar het nie, dit was eenvoudig n show wat misluk het oor swak publisiteit, jy kan die storie self hier lees http://www.wimpie.co.za/2008/08/25-vrae/

Toe is gesê ek is afgedank by Oos Rand Stereo omdat ek dieselfde probeer het deur die omroepers op te steek bla bla bla….. Snert! Skakel gerus vir Johan Smit of Frans Swart by Oos Rand Stereo en vra of dit die geval is, ORS het my self meegedeel dat hulle die afgelop week oorval is deur oproepe van mense van hier wat n sinestere storie gesoek het. Die waarheid is ek het meer as 10 jaar van my lewe daar gewerk en in die proses alle toekennings gewen wat daar was om te wen. Die storie is ook goed gedokumenteer en die storie is hier http://www.wimpie.co.za/2008/08/dankie-vir-die-blomme/

My bedoeling met hierdie skrywe is nie om enigeen in n slegte lig te plaas nie maar bloot om my kant van die storie te vertel. Ek is dankbaar dat ek n geleentheid gegun is om deel te raak van n splinternuwe radio projek by name van Bok Radio. Ons gaan alle moontlike paaie ondersoek om te kan uitsaai en sal binnekort aan ons ondersteuners laat weet waar en hoe dit sal gebeur.

Radio Houtstok was vir my gelaai met ongekende hoogte en laagtepunte, ek vertrou rerig dat geregtigheid sal geskiet en wens hulle alle voorspoed toe in die toekoms!

Wimpie van der Sandt

This entry was posted in Die lewe, mense en dinge. Bookmark the permalink.

36 Responses to Houtstok…

  1. Hallo Wimpie

    Goeie genade!! Ek sou nie eens so lank uit gehou het soos jy het nie! Sjoe dit vat ‘n man op ‘n perd…… om so iets te doen!

    Alle Sterkte met jou toekoms!

    Groete
    Blommie

    • Haai Wimpie, hoop van harte dat julle Bok Radio so gou moontlik van die grond af kry en baie dankie vir jou artikel, ek dink dit is omtrent tyd dat die mense die waarheid hoor. Ek het so n paar dae gelede n “comment” op houtstok se facebook geplaas oor LB wat alle negatiewe comments delete, met die vraag, wat het van vryheid van spraak geword. Natuurlik was dit ook ge delete. So, ek stem, ons staan bank was agter jou.
      Machiel Adendorff

    • Petra says:

      Al wat ek kan se is sterkte en loop net `n reguit pad.

  2. capetownfly says:

    Mooi so Wimpie. Ons bly bankvas agter jou en die goedheid wat jy uitstraal. Almal weet nou wat daar aangegaan het, en het al selfs die lelike goed op hulle fb gesien. Ons wens jou net die beste in die toekoms mee, hier in die kaap, en hoop jy en bok radio word “Ou” kaapenaars saam met ons…
    non omnis moriar
    “I shall not die!”

  3. ek kan nie glo wat ek lees nie….ek sou wraggies waar ook geloop het… en dat mense net so kan slegse sonder dat hulle die feite ken…dis kinderagtig…geen takt in daai mense nie.
    Wimpie, ek hoop rerig Bok Radio maak n sukses – dankie vir jou kant van die storie.
    LB klink maar vir my rerig na n geldgierige man!
    maar die wiel draai ne!

    sterkte!! BT

  4. Ek haal my hoed af vir n man wat so lank uitgehou het Ek sal bitter graag die reaksie van LB se kant af oor hierdie aangeleentheid wil hoor. Dit klink of die man in n staat van ontkenning lewe.? Wake up LB and smell the roses. Hoe lank dink jy gaan jy wegkom met al hierdie aantuigings. Die nuutste is om kunstenaars gebruik om mense te SMEEK om net een kaartjie te koop vir die houtstok fees want hy WEET dit gaan ook in n ramp eindig !!

    Sterkte Wimpie vir julle toekoms. Ons support julle al die pad !!!

  5. suzette says:

    Wimpie ons glo in jou en in die ander omroepers en julle het regtig Houtstok gemaak ons kon nie wag om jul stemme te hoor of om brekfis saam jou te gehad het of om huistoe te gaan saam HHH nie, maar as alles goed gaan kan ons die een van die dae weer doen, julle is puik. Moenie dat gebeure soos hierdie jou kop onderste bo laat nie, jy is te trots daarvoor. Glo net in die almagtige Vader. LIEFDE en Groete
    Suzette

  6. Johan Swarts says:

    Aarde…dis omtrent ‘n gemorsspul.

    Ek is bly jy het geloop.

  7. Dálene says:

    Daar is ‘n rede hoekom ek lankal nie meer na Houtstok luister nie.
    Ek sal die selle gedoen het. Ek hoop regtig dinge met Bok Radio werk uit en dat dit ‘n groot sukses sal wees.

    Alles sterkte vir jou voorentoe.

    Groete
    Dálene

  8. Wimpie
    Ek is regtig bly jy is weg daar. Toe Wickus geloop het, was hy ook die slegste mens op aarde. Jy kan net dink wat daar alles van hom en selfs my gesê is. Hy was later so moedeloos en wou alles – sy geld – net so los. Ek het egter vir LB n paar maal gebel, maar is so gevloek, dis net nie waar nie. Ek het nog nooit so iets gehoor nie!! En dit n radiostasie vir n kerk!!
    Ek weet jy sal n sukses maak van die nuwe projek. Hou jou kop hoog en gaan aan met jou lewe. Ons het almal duisende rande verloor as gevolg van LB. Maar ons gaan aan. Daarvoor sorg die Here. Ons moet net vertrou!!!

  9. Aletta says:

    Hi Wimpie

    Sterkte en Voorspoed. Staan 100% agter julle, kry nou vir Bok Radio op die lug. Ons wag in spanning.

  10. Amanda says:

    ek wil net dankie se dat die waarheid aan ons geopenbaar word. ek wil ook net se dat ons asb by die waarheid moet bly en dat elkeen nie ‘n stertjie moet bysit nie, want sulke goed gebeur, ons is mos net mens , en mense is mal oor sensasie. Alle sterkte met Bok radio, en ek hoop van harte dat Houtsstok hul “issues” sal uitsoteer. die media bedryf kan so ‘n ongelooflike sterk “tool” wees om die gemeenskap te help, by te staan en soms ook ‘n lewe te red. in my opinie is die radio ‘n gratis charity, of helplyn wir mense wat soms voel daar is geen lig aan die einde van die tonnel nie. my droom vir Bokradion is daardie “life line” aan elkeen van ons op dae wat ons voel dinge in net een te veel. Wimpie en glo jy en jou span sal dit doen vir ons almal.

  11. Soek jy my says:

    Ek skud my kop in absolute ongeloof….en byt omtrent op my lip om nie my behoorlike opinie hier te lug nie. Wimpie – JY’S LEGEND DUDE! JY ROCK!

    Knap gedaan is al wat ek vir jou gaan sê. Vir jou en die ander omroepers. My ma het altyd gesê ‘Meng jou met die semels…’ Julle ken die res.

    Vir nou, tot en met BOKRADIO, sal KFM, Tygerberg en Helderberg my nie doodmaak nie. Maar 91.3 op my radio of PC – nooit weer nie. Ek borsvoed eerder ‘n krokkodil!

    Geniet jou dag dude en *S*T*R*O*N*G*S* XXX

  12. Deon says:

    Ek weet presies hoe jy voel Wimpie……. Was ookal so behandel en het maar sleg tweede gekom omdat ek alle waarskuwings ontwyk het en nie kon glo ‘n “pel” doen dit aan ‘n ander pel nie. Het my pa se raad heeltemal verontagsaam ” Moet in geen besigheid of geld lenery betrokke raak met vriende en familie nie !!!” Hoe waar is daardie woorde nie. Duur skoolgeld betaal, maar amper alweer op my voete. Jy het reg gedoen, lyk my ook ‘n bietjie laat, maar daar is altyd ‘n uitweg.

  13. Floyed says:

    Goeie genade Wimpie. Ek huil sommer vir jou. Ek weet deur watter tydings jy moes vaar om die radiostasie op die been te bring. Ek moet net vir jou sê dat jou positiewe uitkyk, hardwerkendheid asook jou eerlike en volharde entoësiasme nie op blinde ore geval het nie. Jy het so baie op die spel geplaas, die weet ons almal. Nou dat jy in sak en as gelaat is gaan ek op my knieëtjies en vra vir die Here om jou te beloon vir die vasbyt en die geloof wat jy gehad het in ‘n eg Afrikaanse radiostasie. Ek dink nie jy moet te veel worry nie. ‘n Ou soos jy land sommer net so weer op sy voete!!!

  14. Wendy Heaney says:

    Dankie W, ek waardeer jou opregtheid. “These are the Days of our Lives”, ne? Sterkte my mater, met Bok Radio en met enige taak wat jy in die toekoms aanvat. Lig jou hande na Bo en glo dat God jou hart ken. Verbly jou in die Heer se genade. Matt 6:35/6 – Moenie worry oor more nie, God sal voorsien.
    Bye for now

  15. Elane says:

    Hi Wimpie,

    Dankie vir die waarheid, die hele waarheid en niks behalwe die waarheid nie! Die feit dat jy nog krag het vir ‘n nuwe stasie na dit alles wys net hoe sterk jou karakter is! Ek deel jou passie vir Afrikaans en ek wens jou en jou bokke alles van die beste!

    Mag daar hope groen blare wees om julle aan die gang te hou vir jare en jare!

    Vasbyt!

  16. Hi Wimpie!

    Dit help nie om ander mense sleg te sê nie, maar in hierdie geval sou ek nogal gelove het om presies te sê wat ek van ‘n sekere Baartman dink… Elk geval – Baie baie dankie vir die volle waarheid en nog meer vir jou integriteit om nie tot op Louis se vlak te daal nie!!! Dis voorwaar ‘n uitstekende eienskap en maak dit net nog duideliker wie die eintlike vark in die verhaal is…

    Ons sien baie uit na die nuwe radio stasie – Hou ons asb op hoogte!

    Sterk staan!!

    Yolanda

  17. Genade, Wimpie!!! Dis so ‘n gemors! Sterkte vir die pad vorentoe!

  18. Hi my vriend Wimpie, baie dankie vir die waarheid, ek glo dat
    LB sal sy dag kry, ek is jammer dat ek jou nie kan help nie,
    maar weet ek en baie ander staan agter jou!! Mag Bok radio
    n groot sukses wees. Wees sterk en bytvas!!
    Corrie

  19. Son says:

    Dis ‘n hartseer storie dat LB nie wou luister nie. Houtstok kon SO suksesvol gewees het. En dis jammer dat julle (beste) omroepers geloop het, maar ek sou ook as ek in julle plek was. Nou hoop ek net julle kan Bok Radio op die been bring en vir ons weer ‘n kookwater radiostasie gee. En as jy musiek soek, ek het van alles en nog wat, BAIE Afrikaanse musiek ook, op ‘n paar harde skywe. Jy kan dit pasella by my kry :-)

    Sterkte.

  20. Marietjie says:

    Liewe mense – al die dinge!

  21. Heleen says:

    Hi Wimpie, sjoe dis omtrent vir jou ‘n gemors. Ek kan ook nie glo hoe onprofessioneel LB op fb opgetree het, en selfs op die lug nie. Ek luister na die stasie want ek hou van Afrikaanse musiek. So ek hoop dat jou nuwe projek sal uitwerk, want ons het ‘n Afrikaanse stasie nodig. Maar nie die HS sirkus nie. Sterkte daarmee! Ek volg op twitter wat gebeur:)

  22. LB is ‘n wurm, almal sien deur hom, ek glo jy sal die nodige ondervinding kry, begin ‘n ander stasie soos die en ek bv. skakel dadelik oor.

    Sterkte maat,

    Nico

  23. Anita L says:

    Baie sterkte Wimpie. Dankie vir jou kant van die saak. Ons almal voel vir jou en ek stem saam met die meerderheid. Die Wiel draai, elkeen kry sy dag en vir sommiges SPIN daai wiel! Baie sterkte met BOK Radio, hou ons op hoogte….ons ‘tune’ dadelik in!

  24. Boerq says:

    Jis meneer. Great vir jou maater. Almal sal bly wees as daar ‘n replacement vir Houtstok is – jy het hom mos in elk geval help create! Hou ons asb op hoogte. EK sal help bemark, whatever it takes.

    Ek is moeg vir die stasie se onprfessionele optrede in die social media, en wil dan kla oor die publieke feedback?????

    Laat weet my ook as jul ‘n IT ou soek by die stasie, ek wil ook kaap toe trek.

    Groete

  25. Alta Nortje says:

    Ai toggie mens kan net jou hande saamslaan oor alles wat gebeur. Wimpie ek glo jy speel oop kaarte oor al die gebeure. Dankie daarvoor. Wat so hardverskeurend is, is dat ons Afrikaanssprekends goed begin, mense intrek (ja, ons is almal honger vir afrikaans) en dan bars daar n bom. Hierdie is net so hartseer soos Rudi en Corlea. Net toe die publiek gek is oor hulle……….bars die bom.

  26. Weetialtyd says:

    Ja Wimpie dis vandat julle besluit het om te loop wat daar `n hele groep van ons is wat nie meer HS luister nie. Wie kan na `n man soos Louis B. luister siestog hy probeer baie hard maar nee daar is geen salf aan hom te smeer hy weet nie wat die woord omroeper beteken nie hy is pateties. Ek dink Louis en sy gespuis is skelm en ek glo eenmaal `n skelm altyd `n skelm so hy sal nooit in sy lewe anders wees nie. Daarom is dit beter dat almal weet wie en wat hy is en ver weg moet bly van hom en sy trawante. Carte Blanche doen hulle huiswerk voor hulle iets uitsaai en hy weet net so goed soos ek en jy hy het daai oumense ingedoen en van hulle gesteel so hy kan maar probeer om `n eis teen hulle in te stel hy gaan net nog van HS se geld mors want hy gaan sleg tweede kom. HS gaan dit nie maak as hulle nie vinnig van hom ontslae raak nie. Daar moet `n bestuursraad wees wat by magtig is om hom af te sit en hulle beter dit vinnig doen anders was HS gewees. Sterkte met jou nuwe planne en laat weet as julle radiostasie begin uitsaai ons sal julle graag ondersteun.

  27. Eugene says:

    Howzit dude.

    Die grootste rede hoekom ek besluit het om Houtstok te luister is omdat jy so goed was op Oos-Rand stereo, ook ‘n oud-Hugie, en iemand is wat sy musiek en luisteraars ken. Ek het klomp vriende, vriendinne en familie oortuig om Houtstok te luister. Ek moet erken, ek luister nog, net oor die musiek, maar as ek sekere mense se stem hoor, dan verander ek dadelik na my CD-speler. Dit het baie van jou gevat om tot daai punt uit te hou. Ek salueer jou!!

    Sterkte met Bok-radio. Laat ons weet wat die vordering is, ons kan nie wag vir ‘n eerlike stasie met eerlike mense en eerlike motiewe nie!

    Stormers groete!!

  28. Gideon says:

    Jis Wimpie, maak asb tog net gou met die nuwe stasie, ek lui aan ontrekking simptome. Ek weier om na Houtstok verder te luister en 5fm moet maar vir eers doen. Intussen koop ek afrikaanse CD’s asof dit uit die mode gaan, my geld raak nou min, kom gooi daai bok oor die klankgolwe. Min of meer hoe lank kan dit neem, hoeveel maande voor julle kan op die lug wees? Moet asb tog net nie die houtstok padjie loop met onderbrekings wat soms vir dae aaneen was nie. Dit is baie onprofessioneel. Dankie vir jou poging, ons hou van baie musiek en min praat. Jy sal dit ‘n sukses maak, jy het die potensiaal. Groete

  29. Adele says:

    Dankie hiervoor Wimpie. Ek het so pas die radio in my motor na KFM terug geskakel en dis waar dit sal bly totdat Bok Radio die lig sien. Ek sal jou volg op Twitter sodat ek nie die eerste uitsending mis nie. Hoe LB in die nag slaap gaan my verstand te bowe, maar, wat jy saai sal jy maai… Sterkte vir julle omroepers!

  30. wimpy says:

    hi ek luister nog HS want dit is a stasie en afrikaans en leer nou baie nuwe kunstenaars ken maar wag nog vir die nuwe 1 laat ek sien, week amper om

  31. Johan Crous says:

    Wimpie, WOW, dit is nou vir jou ‘n ding.

    Ek was so bly to LB van die oggend show afgehaal was en jy daar ingesit is, dit was weer lekker om die oggend werk toe te ry en na HS te luister.
    Maar deesdae luister ek nogsteeds HS want en smaak Afrikaanse musiek en geen ander radio stasie bied dit nie.
    Nou moet julle net daardie nuwe BOK radio op die lug kry sodat ons HS finaal kan vaarwel toewens. Laat weet asb wanneer julle op die lug is en waar ons na julle sal kan luister.
    Ek is seker daar is duisende mense wat agter jou staan en julle sal ondersteun.
    Alles sterkte!

  32. Wimpie

    ‘n Baie duidelike, regverdige en goeie skrywe!
    Ek kan amper nie glo dat LB nog jou naam probeer beswadder het, na alles wat hy aan jou en die arme DJs gedoen het nie.
    Ongelukkig kom ons almal op een of ander stadium so iemand tee in ons lewe – ‘n gewetenlose, “self-unaware” sosiopaat wat net vir een persoon omgee: homself.
    En dan het so baie sulke mense die “nerve” om na hulself as Christene te verwys!
    Ek wens vir jou, HHH, Lino en al die ander wonderlike mense wat ek by RH ontmoet het net alles van die beste toe. Mag julle van krag tot krag gaan en mag BOK Radio ‘n GROOT sukses wees! :)

    Soos my wyse pa altyd sê: good riddance to bad rubbish!

  33. Benine says:

    Hi Wimpie

    Dankie, nou verstaan ek ook wat aangaan. Ek kan nie glo Louis lieg so vir ons almal nie en maak asof julle die skuldiges is nie. Die wiel sal draai. Alle sterkte met Bok Radio!

  34. Andre says:

    Hoe vind ek uit oor Bok Radio? Saai hulle al uit, of wanneer beplan hulle om te begin?