Trekdinge…

Nou ja daar is soveel om te doen voor ek die pad aandurf Kaap toe, ek weet soms nie meer waar om te vat of waar om te los nie. Een van die dinge wat ek verseker weet is dat ek op ‘n punt in my lewe is waar ek net eenvoudig nie meer lus is om te sukkel met mense en dinge nie.

Dis tog eenvoudig die hele beginsel, as jy sukkel met iets of iemand sorteer die probleem daar en dan uit en dan hoef jy nie oor ‘n week of twee frustreerd te raak oor dinge nie en die sakie is afgehandel. Ek gaan nie meer sukkel nie dis maar net dit, simpel en eenvoudig… veral nie nou nie ek het nie die tyd nie.

Een van die dinge waarmee ek tans sukkel is my kar wat al vir sewe weke, amper twee maande, by Renault staan, na beloftes dat ek gister uiteindelik my kar kan kry, ry ek nogal redelik opgewonde die paadjie Germiston toe gister met my courtesy vehicle om my kar te gaan oppik.

Daar gekom kyk die workshop manager my byna met trane in sy oe aan, in so ‘n mate dat ek hom amper jammer kry toe hy aan my moet verduidelik my kar is nie klaar nie want….. die werktuigkundige…. wag vir dit…. het my kar se sleutel verloor!

Dit klink baie minder gekompliseer as wat dit werklik is, jy sien my kar het nie ‘n sleutel nie, dis ‘n kaart, amper soos ‘n kredietkaart, en hierdie kaart kan net van Frankryk af kom….

Al wat ek weet is ek vertrek volgende week Kaap toe, ek soek ‘n kar in die Kaap einde van die storie. Ek vlieg volgende week en daar beter ‘n Renault vir my op die lughawe wag, ek is nie gatvol nie, ek is gatvol verby!

Wian het gister weer rugby gespeel en wat ‘n plesier is dit nie om my seuntjie te sien hardloop bal onder die arm op die doellyn af nie. Ek glo my as hierdie klein skrumskakeltjie sy oog op die doellyn het moet die ander span sy keer ken want hy kan…. ek sukkel om met integriteit te gaan kyk as hy speel want ek is maar net ‘n pa…. met ‘n seuntjie…. wat rugby speel. Hy lyk sommer soos ‘n klein Stormertjie, niks sal my meer plesier verskaf as om hom saam my in die Kaap te he waar hy regte rugby kan speel nie, maar daar is so baie om in ag te neem, hy is die SA tuimel kampioen, soos hy jou gou sal herinner, en as hy by my moet kom bly sal sy ma doodgaan van die verlange.

Dit maak nie saak nie, ek sal maar net genoeg tyd MOET maak om hom te kan sien.

My dogter het klaar besluit sy trek Kaap toe en basta, en dit maak my hart bly!

Ons het die afgelope naweek bietjie saam vriende en familie gebraai en dis jammer dat dit so lank moes vat om saam my familie te begin kuier. Pieter en Elmarie en Johan, SusanĀ en Janine en almal wat daar was, solank ek ‘n dak oor my kop het, het julle ‘n blyplekkie as julle kom kuier, ek hoor die eerste een word gereel vir 15 Mei, ja reg geraai die Bulle teen die Stormers op Nuweland! Op die foto is my broer Danie, sy dogter Annemarie links en my dogter Janine regs…

Wimpie

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Comments are closed.