Die beskawing is waar?

Ek besef weer vanoggend toe ek my oe in die mooiste Kaap oopmaak hoe bevoorreg is hierdie blerrie Kapenaars en hulle besef dit nie eers nie.

Wat ‘n voorreg om wakker te word en jou daaglikse 3km draf sessie sommer langs die see te gaan doen met die uitsig van Tafelberg, die see en Robbeneiland wat voor jou le soos die mooiste screensaver!

Soos julle seker kan aflei is ek in die mooiste Kaap, ongelukkig nie vir speel nie maar die keer vir ‘n bietjie werk. Ek is hier om te help om Radio Houtstok op die been te kry, die groot Launch datum is beplan vir 25 Februarie en ek is hier om te help met die keuring van die omroepers en om algemene stelsels in plek te kry. Ek is baie opgewonde oor die projek want ek sien iets groot kom vir die Kapenaars en wie weet dalk skuif die uwe self weer agter die mikrofoon in vir ‘n wyle!

Die ouens se ateljee kan beswaarlik op ‘n mooier plek wees as waar dit is, in Bloubergstrand, ‘n klipgooi van die strand en seker Suid-Afrika se bekendste view af. Louis Baartman en sy span het die idee om die eerste volwaardige Afrikaanse Radiostasie in die Skiereiland op te stel en om al die beste Afrikaanse musiek te speel 24 uur per dag, 7dae ‘n week.

Ek glo hulle gaan baie suksesvol weesas jy in ag neem dat daar sowat 2.8 miljoen Afrikaanssprekendes in die geweste bly. Ek sal so bietjie later in die week hulle doelstellings bespreek en wat die stasie alles beoog, vir die volgende paar dae is daar so bietjie werk om te doen, die tyd raak min en ons sal moet wikkel om alles in plek te kry betyds as hulle oor bietjie meer as ‘n maand wil lewendig gaan.

Soos gewoonlik is dit ‘n hengse uitdaging en iets waarvoor ek baie kans sien.

Later vertel ek meer.

Die uwe het gister bietjie verneuk met die dieet, kon nie ‘n sin-a-bon weerstaan nie!, het darem opgemaak met vanoggend se ontbyt…. ‘n shake en 3km draf, strandlangs!

Ek gesels later, moet nou eers weer vir die see gaan kyk…. en die berg…. en die strand… en Robbeneiland …. en die die mooiste stand in die wereld en en en en…

Wimpie

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Comments are closed.