Welkom terug…was dit lekker?

En so het die langverwagte mesiah vir Suid-Afrika aangebreek. 2010 Gaan in baie opsigte ‘n groot jaar wees, vir my, die land, sokkergeesdriftiges en ‘n paar ander mense!

Die uitspantydjie was broodnodig in Desember en het my die wereld se goed gedoen. Ek gaan die rus nodig he om alles suksesvol te kan aanpak wat die jaar moet gebeur. Verby is die meulstene om my nek wat my die afgelope twee jaar so vasgehou het, van nou af is my eie destiny in my eie hande.

Dit gaan in baie opsigte ‘n wilde jaar wees. Oor ‘n paar dae vertrek ek Kaap toe waar ek die meeste van Januarie en Februarie sal deurbring terwyl ek help om Radio Houtstok op die been te bring. Louis Baartman en sy span is in baie opsigte formidabel en ek sal mettertyd meer inligting deurgee oor wat jy op Radio Houtstok kan verwag…. en ja jy sal op die Internet ook kan luister, en wie weet miskien skuif ek self weer vir ‘n wyle agter die mikrofoon in.

Tjaila-Tyd maak nog ‘n baie groot tak in Februarie in Springs oop, op 24 Februarie om presies te wees, en dan het ek drie kunstenaars in Februarie by Byron Kuntz in die ateljee besig om CD’s op te neem. Raymond Ray, Rea le Roux en Adolph de Beer maak gereed om die land onkant te vang in die nuwe jaar.

Met retrospek sou niks van hierdie projekte moontlik gewees het in die kluisenaarsbestaan van my vorige verhouding en met die beperkinge wat dit op my bewegings geplaas het nie. Dit is dan met ‘n tikkie bitter in die mond dat ek terugdink daaraan en wonder hoe mens na ‘n verhouding van twee jaar van saambly en alles met mekaar deel, sommer binne vyf dae reguit in ‘n nuwe verhouding kan instap en jou liefde vir die nuwe persoon op Facebook kan verklaar?

Die feit dat ek so baie vir die soet smaak van sukses moet opoffer, en eers gaan sluk aan die bitterbeker van teleurstelling en depressie, gaan die oomblik wanneer die ultimate sukses my kant toe kom, soveel groter maak. Nog nooit in my lewe het ek soveel gehad om te bewys nie, nog nooit in my lewe was ek so gedetermineerd om dit te doen nie en nog nooit was ek so lus om ‘n groot vet middelvinger in almal wat my afskryf se gesigte te druk nie!  

Ja ek het ook iemand ontmoed, maar ek/ons het besluit om nie van dit ‘n rebound verhouding te maak nie en is vir nou vriende wat dinge maar dag vir dag vat en dag vir dag leer om te deel met dit wat in twee weke, ja dis net twee weke! so vinnig gebeur het. Ja ek is bitter, ja ek is gebreek vir nou, ja ek sal opstaan, ja dit gaan spectacular wees, maar vir nou….. nou tel ek maar eers stukkies op, hou begrafnis vir almal wat dood is in my lewe en besef Januarie gaan ‘n aaklige maand vir my wees…. Soet is die wete dat “this too shall pass”…

Die regte ding om te doen is om heeltemal af te skakel en nie enigiets van jou voormalige geliefde te hoor of te weet nie, maar soms laat glip jou vriende maar onwetend ietsie uit.

Ek vra mooi dat dit nie verder die geval met my sal wees nie, ek stel nie belang om enigiets verder te hoor van wat my voormalige geliefde aanvang, saam met wie sy dit doen nie en bowenal hoe wonderlik haar liefdeslewe is nie. Soos gewoonlik kry ek die arme kinders jammer…

Dit daar gelaat en aangesien ek hierdie inskrywing op die laaste dag van 2009 maak, sal dit die laaste bietjie bitterheid wees wat ek oor die onderwerp sal toelaat.

Ek het, soos elke jaar, maar my lysie nuwejaarsvoornemens opgetrek. Ek glo nie soos ander mense dat nuwejaarsvoornemens noodwendig ‘n slegte ding is nie, myne vir verlede jaar was om op 31 Desember op te hou rook, en vandag, ‘n jaar later, het ek nog nie weer gerook nie.

Vir 2010 gaan ek finansieel onafhanklik raak en nie toelaat dat enigeen ooit weer in die pad van my drome staan nie. Dis al wat ek myself toewens vir 2010, en dis al wat ek gaan kry!

Vir jou wat hier lees, wens ek net die beste en die heel mooiste toe vir ‘n great jaar en alles van die beste en die heel mooiste in 2010. Kyk uit vir my in hierdie jaar, jy SAL van my hoor, dit GAAN groot wees ek HOOP jy is REG daarvoor, want die vet weet ek is.

Welkom op die Wimpie-trein vir 2010, daar gaan liefde, romanse, geld, uitdagings, intrige, bietjie soet en bietjie suur op die trein wees, maar een ding is verseker…. vervelig gaan dit NOOIT wees nie. Sien jou op die flipside, welkom by MY wereld!

Wimpie

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to Welkom terug…was dit lekker?

  1. Beertjie says:

    Voorspoed vir 2010 Wimpie. Hoop dit hou net vrede en vreugde in vir jou. Ek lees gereeld hier maar comment nie baie nie.

    Hoop die 2010 sokker sal ‘n sukses wees al sit ek aan die ander kant van die wêreld.

    Die mense hier is maar skepties om die span daar te gaan ondersteun, daar word baie klem gelê op veiligheid indien die NZ ondersteuners gaan kyk. Die mense hier ken nie geweld nie, hulle kan nie glo dat daar goed soos hijackings is nie, dit bestaan net nie hier nie.

    Wel voorspoed vir 2010.

  2. Gideon says:

    Sukses vir die jaar Wimpie. Hou ‘n koel kop en moenie toelaat dat rubbish jou tyd steel nie.

  3. Ina says:

    Hi my ou liefste neef,

    Jammer om te hoor van jou seer. Tel op jou kop en kyk voorentoe 2010 is ons jaar. Gaan groot en moenie in jouself twyfel nie ons weet mos jy kan.

    Lief jou

    Ina