Eerste storie oor Koel my af

Ek ken Rilette Meyer van die Brugbou konsert af, sy was die verslaggewer wat die artikel in vroue keur geskryf het oor Anton en Steve wat voor die konsert verskyn het.

Sy is ook die eerste joernalis wat iets oor Raymond se CD geskryf het:

Giftig … Dis die eerste woord wat vassteek wanneer ‘n mens na Raymond Ray se debuut CD KOEL MY AF luister. Vinnig, energiek, polsend met ritme – die aantreklike jong man laat geen twyfel oor sy styl en stempel nie en die tempo van KOEL MY AF gaan jou tussen die ore klits.

Die album, wat beslis groot aftrek gaan kry, is ‘n bondige versameling van 10 snitte. Van die titelsnit, Koel my af, tot die laaste oemf van Bietjie Bietjie anders, bewys Raymond dat sy knal-effek nie ‘n oordonderende magtige dreuning en mengelmoes van genres is nie – dis veel eerder ‘n lig-jou-op ritme wat soos ‘n goue draad die verskillende snitte aanmekaar verbind en ‘n genotvolle geheel skep. Die twee engelse nommers, Calling en Do you skakel soomloos in en bewys dat hy ewe gemaklik in beide tale suiwer Raymond is. Soms is daar ‘n skeutjie pop klank te bespeur, maar daar is deurgaans ‘n swaarder, meer substansiële klank wat effektief saamwerk om ‘n netjiese en gebalanseerde eiesoortige klank te skep wat lank draal nadat die CD stil geword het.

Alhoewel hierdie Raymond se debuut CD tov sy solo loopbaan is, het sy musiekloopbaan reeds in 2000 vlam gevat toe hy deel was van die stingelgroep FourCast. Hulle het 12 maande na hulle ontstaan hulself na FourFiFteen herdoop, en het telkemale die verhoog gedeel met groot name soos Heinz Winckler, WaterShed, Prime Circle, Mondoza, Brandon October, om maar net ‘n paar te noem. Raymond se addisionele ervaring as deel van Barnyard Produksies het groot dividente gelewer. Hierdie waardevolle leerskool het hom geslyp en ‘n dimensie bygevoeg wat hom daardie belangrike iets ekstra gee.

Raymond se musiek is toeganklik en gemik op ‘n gehoor wat moeg gewroeg is en hulle wil vergryp aan pret en ontspanning om die daaglikse dwarsklappe van die lewe teë te werk. Hy skryf reeds sedert 19j ouderdom sy eie lirieke, wat hy ook toonset en verwerk. Op KOEL MY AF is dit opvallend dat die lirieke nie daarop gemik is om swaarkry te eggo nie – die album se fokus is pure lekkerkry. Terloops, Calling (snit nr 5) was sy eerste groot treffer met die groep FourFiFteen, en is landwyd deur radio stasies soos Highveld Stereo, Jacaranda, Five Fm en nog vele meer gespeel. Die liedjie het ongelooflike terugvoer en lof gekry. Die titelsnit Koel my af is reeds ‘n groot treffer by sy optredes.

Raymond streef daarna om ‘n vars, kontemporêre klank daar te stel waaraan hy as individu sonder verwarring uitgeken sal word. Ritme foendies sal genot vind in die uitblinker album wat vir suiwer plesier van aanhangers saamgestel is.

Ek het ‘n laaang dag wat voorle, het weer aan insomnia ontkom gisteraand… geniet jou dag.

Wimpie

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

2 Responses to Eerste storie oor Koel my af

  1. Meermin says:

    Wimpie sien jou dan Sondagaand!!!