Boks maak dit ‘n gangbare naweek!

Ek weet nie of julle, soos ek, die dae van groot boksgevegte kan onthou nie, Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Mohammed Ali, Charlie Weir, Sugar Ray Leonnard, Marvin Hagler en Thomas the hitman Hearns, se gevegte was iets wat jy net eenvoudig moes sien.

Laas week kyk ek ‘n program op televisie en hulle vra die vraag of Floyd Mayweather dalk die beste bokser van alle tye is, nou ek sal jou vergewe as jy vra wie is hy, ek het ook nie geweet voor ek sy geveg ‘n paar maande terug teen Oscar de la Hoya gesien het nie.
Nou wanneer boks die dag goed is en die verbeelding aangryp dan is dit die moeite werd om 04H00 in die oggend op te staan vir ‘n geveg.
Voor die groot fight is daar baie gese deur die Ricky Hatten kamp oor wie gaan wen en wie gaan vir wie onttroon aangesien altwee boksers onoorwonne was, nou ja dit was die moeite werd om vroeg op te staan vir so ‘n geveg, het my baie laat dink aan die goue dae van boks…
Vir die rekord Mayweather het gewen met ‘n uitklophou in die 10e ronde en ja hy is die beste bokser in die wereld en in die top 3 van alle tye!
As jy dit gemis het, hier is die uitklophou:

Meer as 200 onafhanklike wetenskaplikes, van wie drie Suid-Afrikaners is, het in ’n verklaring ’n dringende beroep op die sekretariaat van die Verenigde Nasies (VN) se klimaatberaad in Bali gedoen om toe te sien dat alle lande hulle verbind tot die bekamping van kweekhuisgasse.
“Die Baliberaad móét ’n sukses wees. Die tyd is besig om ons in te haal.
“Die mensdom kan dit nie bekostig om te misluk in Bali nie,” het prof. Stefan Rahmstorf, hoogleraar in fisika en oseanografie aan die Universiteit van Potsdam, in die verklaring gesê.
Die wereld moet wakker word en begin besef dis nie meer ‘n saak om oor te debatteer nie, daar moet nou iets gedoen word, ons tyd is min en word al hoe minder!

Ons het ‘n nuwe mej. Suid-Afrika sy is Tansey Coetzee, sy is 23 en sy is ‘n donkerkop, sy is mooi en sy lyk so…
Ek sien sy is van Johannesburg ek wonder of ek haar dalk in die ateljee kan kry vir ‘n onderhoud, toema dit sal net ‘n onderhoud wees ek belowe, ek het laas week ‘n onderhoud gehad met Yolandi Pienaar, die Son koerant se wenner van die Sonbokkie kompetisie.
Ek het haar bietjie meer tyd gegee as ander mense….

Die koerant Beeld het ’n dokument van 141 bladsye bekom wat glo opsienbarende onthullings bevat wat die grondslag vorm vir die Skerpioene se saak teen onder meer nasionale polisiekommissaris Jackie Selebi. Die dokument is saamgestel uit beëdigde verklarings wat aan die ondersoekeenheid oorhandig is. Die verklarings is afgeneem deur die sekerheidshoof van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, Paul O’Sullivan, as deel van sy privaaatondersoek na Selebi. Die verklarings onthul blykbaar ‘n duidelike spoor van beweerde georganiseerde misdaad wat die selferkende dwellmhandelaar Glenn Agliotti gepleeg het met die hulp van sy vriend Selebi.
Ek dink die groot nuusstorie van 2008 is amper met ons en voorspel Selebi se turf gaan sit voor die einde van die jaar!

Ernie Els se ondersteunders is bitter teleurgesteld omdat hy gister letterlik sy kans weggegooi het om die Dunhill-kampioenskap by Leopard Creek te wen. Hy was aan die begin van die 18de putjie twee houe voor John Bickerton van Engeland en het gelyk of ‘n oorwinning ‘n uitgemaakte saak is. Els het egter kop verloor en die bal twee keer in die water geslaan vir ‘n driedubbele brouhou om Bickerton die oorwinning met een hou te besorg.
Ek het dit gekyk en daar was net een woord, Ernie het gechoke…

Later
Wimpie

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

2 Responses to Boks maak dit ‘n gangbare naweek!

  1. My Kop Op 'n Blok! says:

    Dit sal interessant wees om te sien wat gebeur met Selebi. Mens moenie bevooroordeeld wees nie, as ‘n ou onskuldig is, is hy onskuldig, maar as hy skuldig is…
    Lyk my nie Ernie het gechoke nie, lyk my hy’t gedoen wat ‘n miskruier doen.

  2. Anonymous says:

    Wimpels blog maar eers weer volgende jaar. Gaan met vakansie – die blogs is DOOD….